Die Ceres-gholfklub word deur talle gholfgeesdriftiges van Suid-Afrika as een van die beste 9 putjie-bane in die land beskou en die Golf Digest het ook ‘n paar keer hierdie erkenning aan die Ceres-klub gegee.
Die klub se stigtingsjaar was in 1907. Inligting oor die klub se aktiwiteite tussen 1907 en 1924 is maar skaars, vertel Mike Reid, staatmaker-lid van die Ceres-gholfklub.
Die grond waarop die gholfbaan geleë, is nog al die jare gehuur vanaf die Ceres Munisipaliteit.
Die skoonvelde was destyds basies grond wat gelyk gemaak is – daar was geen sprake van gras wat gesny is nie! Die setperke was sand met ‘n olie-oppervlakte en elke speler het saam met hom ‘n skraper gedra om die setperk gelyk te trek – op die lyn van die sethou.
In 1958 het die klub ‘n lening van R2 500 bekom vir die oprigting van ‘n klubhuis (die vorige klubhuis was ‘n beskeie gebou wat slegs uit die noodsaaklikste geriewe bestaan het). Die nuwe klubhuis het ingesluit ‘n kroeg, sitkamer asook kombuis.
Dieselfde jaar (1958) is ook begin om die olie-sand-setperke te vervang met gras. Verskeie plaaslike boere het onderneem om self al die werk te doen wat die aanplant van die nuwe gras-setperke betref – soos Fred Damone, Piet en John Wolfaardt, David Versfeld en Lester Norman.
Die volgende jaar (1959) het die klub ‘n dranklisensie bekom en die kroeg is amptelik geopen op 1 Januarie 1960.
Die Ceres-gholfklub se ledetal in 1964 was altesame 34.
REID-FAMILIE SE GROOT ROL
Die Reid-familie het ‚‘n groot rol gespeel in die geskiedenis van die Ceres-gholfklub. Pa Jimmy, sy vrou Lilemor asook Mike en sy suster het elke Sondag as gesin saam gespeel.
Pa Jimmy was lank klubkaptein en was vir baie jare die spil waarom die klubaktiwiteite gedraai het.
Lilemor was ‘n skitter-vrouespeler. Sy het Ceres se vroue-afdeling jaar na jaar gewen en was ook verskeie jaar die Bolandse geslote vroue-kampioen.
Mike het na sy studies op Maties (1970) by die familie-besigheid op Ceres begin werk.
In 1971 het hy vir die eerste keer die Algemene Jaarvergadering van die Ceres-gholfklub bygewoon en is summer gekies tot tesourier; baanopsigter en kroegman!
Mike self was 9 keer klubkampioen van Ceres en het ook lank gedien op die komitee as klubkaptein, president asook voorsitter van die baan-ontwikkelingskomitee. Hy het ‘n paar jaar gelede verhuis na Hermanus en is ‘n ere-lewenslid van die Ceres-klub.
John Vorster, vorige Eerste Minister van Suid-Afrika, was ‘n geesdrifge gholfspeler en jaarliks het ‘n span van die Parlement kom gholf speel by die Ceres-klub.
“‘n Belangrike rede vir die sterk groei van die Ceres-klub was die sukses wat behaal is met die jaarlikse Classic-toernooi,“ vertel Mike.
CERES CLASSIC EN BENT SETPERKE
“Hierdie toernooi is in 1981 begin as ‘n fondinsamelingsprojek en die dryfveer agter hierdie toernooi was dr Eddie Smit. Die verskaffers aan die boere en plaaslike besighede het die pryse geskenk en danksy die fondse wat ingesamel is kon die klub finansieel groei asook gholf bekostigbaar hou vir sy lede.“
“Die installering van ‘n besproeingstelsel vir die skoonvelde en setperke was die ander stap wat die klub ‘n geweldige hupstoot gegee het. Danksy die bespoeingstelsel het die Ceres-klub in 1983 sy setperke oorgesaai met Bent-gras. Dit was ‘n puik besluit.
Reid vertel: “Die ou setperk-gras was dormant in die winter en het kwaai deurgeloop wanneer dit gesneeu het. Ons nuwe Bent-setperke het gefloreer in die koue van die winter en was altyd in ‘n puik toestand. Ceres was (na Royal Cape en Clovelly) slegs die derde klub in die Wes-Kaap wat kon spog met bent-setperke.“
Ceres se ou 5de putjie was legendaries in die Boland.
Hierdie was ‘n kort syfer 4, maar op die bof is ‘n speler uitgedaag deur verskeie hindernisse. Eerstens moes jy oor die spoorweglyn slaan. Dan was regs buite perke (die skool se sportvelde) en links was pompstasie wat as hindernis gedien het.
Vandag word hierdie putjie slegs as ‘n syfer 3-putjie gespeel – wat inhou dat spelers nie meer uitgedaag word om hul bofhou bo-oor die spoorlyn te slaan nie!
LANDGOED-ONTWIKKELING OP DREEF
‘n Landgoed-ontwikkeling vorm deel van die Ceres-gholfbaan en daar staan vandag reeds 40 wooneenhede op die gholfbaan-landgoed.
Reid was vir baie jare die voorsitter van die gholfklub se baan-ontwikkelingskomitee.
“Die beginsel wat ons nog altyd toegepas het dat 5 voormalige klubkapteins deel moet vorm van hierdie komitee – dit skep kontinuiteit. Hierdie manne se ervaring beteken geweldig baie ten opsigte van beplanning en besluitneming.“
Weens bouwerk-uitbreidings sal drie nuwe putjies opgerig moet word – dit putjies wat in die slag gaan bly weens die bouwerk is putjies nommers 2,3 en 7.
Die drie nuwe putjies se ligging is anderkant die rivier (nader aan die berg) en omdat die omgewing daar so mooi is word met verwagting uitgesien na die nuwe 3 putjies.
FOTO'S: Die pragtige uitsigte is kenmerke van die Ceres-baan
Die 1924-gholfspan van Ceres-klub.