Voorbereiding en goeie beurtspelle gee Boland momentum - De Kock

Die goeie fondament wat die span lê in die beurtspelle asook deeglike voorbereiding voor die toernooi is twee van die belangrikste aspekte hoekom die Bolandse span tans so goed vaar by die SA Platteland-toernooi, sê die spanbestuurder Servaas de Kock.
“Ons besluit om ‘n paar dae voor die begin van die toernooi na Plettenbergbaai te gaan, het beslis vir ons tot dusver in die toernooi baie gehelp. Ook die feit dat ons op die Plettenbergbaai-baan vooraf ‘n oefenwedstryd teen Suid-Kaap gehad het.“
“Die manne het vertroud geraak met die lyne wat hulle moet slaan vanaf die bof en dit word weerspieël in hul spel gedurende die toernooi.“
“Ons was in elke wedstryd voor na die beurtspelle en dit gee vir die span sterk momentum, want dit maak dat ons in die enkels onder minder druk is.“
“Drie pare is nog onoorwonne in die beurspelle – Cedrick Rooi/Ryk van Schoor; Anton Pieters/WP Botha asook Daniel Cronje en Clement de Bruin.“
“Ons besluit om in die enkels die top-orde sterk te maak, lewer ook dividende, want op nommers 8 tot 6 het ons manne die punte tot dusver ingeryg en dit plaas ons opponente onder geweldige druk.“
“Clement wat nommer 8 in die enkels speel, is tot dusver 5.5 uit 6 vir die week; Anton (no. 7) is 5.5 uit 6 en WP (no 6) is 6 uit 6 vir die week.”
“Gister teen Suid-Kaap was spel baie moeilik gewees – daar was wind asook reën – en onder die omstandighede het die Bolanders kop gehou en puik gespeel.“
“Die sege wat Jaco Pieters behaal het teen Grens was sy eerste van die toernooi en dit het lekker ingeskop by hom. Jy kon dit gister sien aan sy selfvertroue en „body-language“ in gister se wedstryd teen Suid-Kaap.“
“Ryk van Schoor het baie hard geveg gister. Hy was af, maar het sterk teruggekom oor die laaste putjies.“
“Jong Daniel Cronje het weer eens ‘n puik wedstryd teen Suid-Kaap gehad. Daniel slaan die bal baie goed – op die syfer 5 15de putjie het hy na sy dryf slegs ‘n sand wedge nodig gehad om die setperk te bereik.“
• Boland het vandag ‘n rusdag en pak môre op die laaste dag van die toernooi vir Mpumalanga.

Category: