Sterk begin vir Boland by SA Platteland-toernooi

Die Boland-span het op dag 1 van die SA Platteland-toernooi op Plettenbergbaai puik begin en ‘n sege van 8-4 oor Oostelike Provinsie behaal.
Nadat die Bolanders met 3-1 voor was na die beurtspelle, het hulle die enkels aangevat.
Nuweling Clement de Bruin het op nommer 8 vir die Boland sterk momentum gegee met ‘n oortuigende sege van 6/4. De Bruin het gekook en was 3 onder baansyfer toe hy hande geskud het met sy teenstander.
Anton Pieters het op nommer 7 stewig gespeel en sy wedstryd halveer. WP Botha het weer eens soliede gholf gespeel en met 2 voor gewen. Botha was 2 onder baansyfer vir die dag.
Cedric Rooi het ook baie stewig en konstant gespeel en sy wedstryd met 2/1 gewen. Rooi was gelyk aan baansyfer in sy enkels-stryd.
Coenie Swanepoel het op nommer 2 ook stewig vertoon en sy wedstryd halveer.
Op nommer 1 het die Bolanders ‘n stukkie goud in Daniel Cronje. Hierdie jongeling het weer eens gewys hy is ‘n man vir die groter oomblikke en het sy wedstryd met 3/1 gewen. Cronje was 3 onder baansyfer aan die einde van die dag.
Die Bolanders se teenstanders môre is Grens.

Category: