Stellenbrau (BGU-borg) se stigter het 'n oog vir 'n gaping

Die verhaal van Stellenbrau, hoofborg van die Boland-gholfunie, is inspirerend vir elkeen van ons wat die spel gholf speel.
Gedurende ‘n besoek aan KwaZulu-Natal het die eienaar en stigter van Stellenbrau, Deon Engelbrecht, ‘n paar boetiek-biere gedrink saam met vriende. Die volgende oggend toe hy vir sy gewone draffie gegaan het, het hy baie verfris gevoel – hoewel hy die vorige aand geniet het.
Hierdie ervaring en gewaarwordinge het Engelbrecht se entrepeneurs-aar “raak geboor” en hy het besluit om sy eie boetiek-bier te maak. As standplaas het hy Stellenbosch gekies – ‘n dorp met ‘n ryke geskiedenis …… asook ‘n hele klompie dorstige studente.
Die wiele het begin draai in 2011 en in 2012 het Stellenbrau sy eerste produk, die Stellenbrau Craven Craft Lager, geloods. Hierdie bier het gou-gou groot naam onder verbruikers en die boetiek-biermark gemaak en in 2014 is die Craven Craft Lager aangewys as die top- boetiek-lager in die wêreld by die Global Craft Beer Awards in Berlyn.
Ek het vir Deon ‘n klompie vrae gestel:
VRAAG: Watter faktore het ‘n groot rol gespeel in jou besluit om Stellenbrau se produkte sterk te bemark in die gholfwêreld?
ENGELBRECHT: Die profiel van gholfspelers is die regte mark vir Stellenbrau-produkte. In die hele gholf-omgewing is die woord “gehalte” ‘n woord wat baie gehoor word. Die gehalte van die aspekte soos die baan asook die geriewe speel ‘n groot rol in die sukses al dan nie van ‘n gholfklub. Een van Stellenbrau se basiese doelwitte is om altyd produkte van gehalte te lewer. En gholfspelers waardeer produkte van gehalte.
Gholfspelers is ook nogals op hul eie manier analiste en probeer nuwe produkte uit. Ons was oortuig daarvan dat ons ‘n sterk voet in die gholfmark sou kon kry.

VRAAG: Hoe is Stellenbrau by gholfklubs ontvang?
ENGELBRECHT: Ons is vanaf die staanspoor baie goed ontvang by die klub. Ons het eerste ons produkte bekend gestel by die Stellenbosch-klub en daarna by Strand en De Zalze. Vandag is Stellenbrau se produkte by 30 gholfklubs in die land beskikbaar. Die meeste is by klubs in die Boland en WP, maar ons produkte word ook geniet by klubs in KwaZulu-Natal en Gauteng – insluitende die Royal Johannesburg-klub.

VRAAG: Wat is die basis van jou besigheidsfilosofie?
ENGELBRECHT: Daar is twee kernpunte:
• Jy moet ‘n uitstekende produk lewer;
• Jy moet uitstekende verhoudings bou met alle partye – verskaffers, verspreiders en verbruikers.
In Suid-Afrika word die biermark oorheers deur monopolië, maar ek het geglo indien jy ‘n gehalte-produk na die mark bring, sal jy ‘n voet in die deur kry
Ons lewe in ‘n tegnologie-wêreld. Maar al leef en werk ons in ‘n tegnologiese era het goeie verhoudinge nog belangriker vir ‘n besigheid soos ons geword.
As ‘n gholfklub ons bel en rapporteer dat hulle byvoorbeeld ‘n probleem het met die “keg” wat ons produkte skink – dan probeer ons so gou as moontlik uitkom en dit regstel. “Maak altyd ‘n plan om jou klante te help” is deel van ons werksfilosofie.”
Dit help ook dat ons nie ‘n lomp en groot firma is nie. Ons is klein, en kan baie vinnig beweeg.
Verder is dit ook vir ons as ‘n klein firma in die reuse-biermark noodsaaklik om die ekstra spreekwoordelike myl vir jou kliënte te loop. Spesiale diens, maak baie kere die groot verskil.”
VRAAG: Gee vir ons ‘n aanduiding van Stellenbrau se groei as besigheid?
ENGELBRECHT: Ons volume verkope het jaar-tot-jaar omtrent konstant met 40% gestyg.
VRAAG: Hoe betrokke is Stellenbrau by gholfklubs en gholfdae?
ENGELBRECHT: Ek glo sterk daaraan dat indien jy ‘n verbruiker se gedrag wil verander, dan moet jy die produk na hom/haar bring. “Kry ons biere by die lippe van die verbruiker” is ‘n algemene gesegde by ons.
Daarom is ons so baie betrokke by gholfdae regoor die Wes-Kaap. Die afgelope 12 maande het Stellenbrau by 213 gholfdae sy produkte bekend gestel aan deelnemers en gaste van die gholfdag. Dit sluit in korporatiewe gholfdae, skole-gholfdae en ander gholfdae wat gehou word vir fondsinsameling-projekte. Baie kere skenk ons ook produkte as pryse.

VRAAG: Watter ander faktore speel ‘n groot rol ten einde jul produk te vestig en uit te bou onder die verbruikersmark?
ENGELBRECHT: Omrede ons produkte by gholfklubs uit ‘n “kraan” kom, speel die kroegman wat ons produkte skink ‘n baie belangrike rol. Doen hy sy werk goed met ons produkte, is hy ‘n belangrike rat in ons bemarkingsketting. Daarom nooi ons gereeld van die klubs se kroegmanne om na ons te kom. Ons gee hulle opleiding en ondersteuning ten opsigte van ons produkte.

VRAAG: Vertel ons ‘n bietjie meer van jul produkte en unieke kenmerke daarvan.
ENGELBRECHT: Craven Craft bevat geen suiker nie en in totaal neem jy baie min koolhidrate in wanneer jy die produk gebruik. Dit is ook nie ‘n swaar bier nie – die alkohol-inhoud (per volume) is 4.5% wat laer as die gemiddelde bier s’n is.
Die Jonker’s Weiss is ‘n ongefiltreerde, tipiese Duitse styl-bier - dit het baie meer “body” as die lager. Dit is dus ‘n baie voller bier en het interessante smake – party mense proe selfs iets van ‘n piesang saam in ons Weiss-produk!
Die Alumni Ale is ‘n “vol” produk. Tydens die produksie-proses voeg ons rou heuning by die bestanddele en dit dra daartoe by dat die Alumni ‘n bykans unieke smaak het. Dit is ‘n meer bitter bier en voller as jou lager.
Governor’s Red is ‘n ‘n baie spesiale bier. Die blare van rooibostee word bygevoeg tydens die produksie-proses en gee aan hierdie bier ‘n kenmerkende rooibostee-smaak.

VRAAG: Hoe het jy aan die produkte se name gekom?
ENGELBRECHT: Dit was vir my belangrik dat Stellenbrau se produk-name iets moes weerspieël vanaf die oorsprong van die besigheid.
Nou ons almal weet dat Dok Danie Craven was een van die grootste seuns wat Stellenbosch opgelewer het, en ek het met die familie gaan gesels en hul toestemming gekry om die naam Craven te gebruik vir een van ons produkte.
Alumni is ‘n verwysing na die Universiteit van Stellenbosch. Ons het ook die gesegde: “As jy die graad van die lewe verwerf het, sal jy ‘n Alummi Ale beslis kan geniet.”
Jonker’s Weiss verwys na die Jonkershoek-vallei – een van die mooiste en mees bekende bakens van Stellenbosch en omgewing.
Governor’s Red – verwys na die stigter van Stellenbosch, Goewerneur Simon van der Stel

VRAAG: Speel jyself gholf?
ENGELBRECHT: Ek is nie eintlik ‘n baie goeie speler nie, maar geniet my gholf baie. Ons woon op De Zalze en my vrou Margriet het half teensinnig op ‘n dag besluit om saam gholf te speel. Die gholfgogga het haar omtrent gebyt en sy speel deesdae amper elke dag.
My seun Crismar wat op Maties studeer is ‘n goeie gholfspeler en het onlangs baie goed gevaar by die SA Amateur-toernooi.
Ons ander seun Barend (hy is saam met my in die besigheid) speel ook gholf en ons geniet die sport saam as ‘n familie.

- Riaan Gerber