Shani Brynard maak geskiedenis in Boland-gholf

Onlangs het die 17-jarige Shani Brynard geskiedenis in Boland-gholf gemaak toe sy die eerste meisie was wat 'n junior ope toernooi in die Boland kon wen. Shani het dit onlangs tydens die Stellenbosch Junior Ope-toernooi reggekry en in die proses afgereken met die top-juniors seuns in die Boland.
Brynard (1.72 m lank en 60 kg) is een van die voorste junior gholfspelers in Suid-Afrika en beklee tans die 18de plek op die SA Junior Meriete-lys. Haar jonger suster Ineke beklee die 33ste plek op die SA Junior Merietelys.
Shani (graad 11-leerder by Rhenish) het die afgelope jaar in verskeie provinsiale toernooie onder die top-10 geëindig - insluitende die WP Junior-toernooi (2de), SA Juniors International (5de), KwaZulu-Natal Junior-toernooi (7de), SA Rose Bowl-toernooi (10de).
Tydens die onlangse Nomads SA Junior toernooi wat op die Orkney-baan gespeel is, was Brynard in die 14de plek met 'n telling van 240 (81, 83, 76).
Hierso volg 'n onderhoud met Shani waarin sy vertel hoe sy bekend geraak het met gholf as sportsoort
VRAAG: Hoe oud was jy toe jy begin gholf speel het en wie het jou aan gholf bekend gestel?
BRYNARD: Ons woon op die De Zalze-gholflandgoed en toe ek 13 jaar oud was, is daar 'n gholfkliniek by De Zalze gehou om gholf aan jong meisies bekend te stel. Ek was dadelik ge"hook" met gholf as ‘n sport en het begin om aanhoudend balle te slaan op die oefenbof. Vandaar kon ek net nie ophou om te probeer om beter en nog beter te word nie. Gholf is vir my 'n "amazing" sport.

VRAAG: Op watter ouderdom het jy aan jou eerste junior houespeltoernooi deelgeneem en kan jy jou telling onthou?
BRYNARD: As 14-jarige in graad 7 het ek aan my eerste junior toernooi op die Stellenbosse baan deelgeneem. My telling was 100 en ek het die netto prys in my afdeling gewen.

VRAAG: Op watter prestasie wat jy al behaal het, is jy die trotste?
BRYNARD: Een van die prestasies wat my baie trots gemaak het, was toe ek SA Amateur-houespeltitel in die "flight division" gewen het. Dit was my eerste nasionale titel. Dit was nogals 'n groot ervaring om te speel terwyl die TV-kameras en media-mense die hele tyd saam met jou op die baan is. Onlangs was ek ook tweede in die WP Ope-toernooi op die Strand-baan.
VRAAG: Wie is jou gholfafrigter?
BRYNARD: Toe ek begin speel het, het Anna Becker-Frankel my afgerig, maar die laaste twee jaar word ek ook deur Murray Smit afgerig.
VRAAG: Watter afdeling van jou spel beskou jy as jou sterkpunt?
BRYNARD: Ek dink my sterkste punt in gholf is dat ek nooit opgee nie.
VRAAG: En watter afdeling van jou spel wil jy nog heelwat verbeter?
BRYNARD: Daar is altyd ruimte vir verbetering met jou kort spel insluitende natuurlik jou setwerk.
VRAAG: Is daar sterk kompetisie tussen jouself en jou suster Ineke wanneer julle speel en help dit vir jou ten opsigte van voorbereiding vir toernooie?
BRYNARD: Nee, ons kompeteer nie ernstig onder mekaar nie, maar ons sal nou en dan iets op die spel sit - net vir die lekkerte. Sy beskik egter oor die vermoë om my enige gegewe dag te wen.
VRAAG: Het jy 'n gereeelde “caddie” as jy in toernooie speel?
BRYNARD: Nee, ek verkies om vir myself te "caddie" , want ek hou daarvan om self besluite te neem en niemand anders is in beheer van my spel nie.
VRAAG: Volg jy 'n gimnasium-program om jou sterker te maak?
BRYNARD: Ja, ek het 'n gimnasium-instrukteur wat ek weekliks gaan sien. Verder volg ek 'n daaglikse program om my liggaam sterk en soepel te hou. Ek is ook baie lief om te gaan draf.
VRAAG: Wat is jou doelwitte vir hierdie jaar?
BRYNARD: My eerste doelwit is om konstant onder die top-6 in toernooie te eindig. Ek het egter ook baie kleiner doelwitte wat my sal help om suksesvol te wees.
VRAAG: En jou doelwit vir die volgende paar jaar?
BRYNARD: Ek sal baie graag "College"-gholf in Amerika gaan speel en as ek klaar "geswot" het, wil ek professioneel gholf speel. Dit is egter belangrik om eers te "swot" en 'n graad te kry.

VRAAG: Is daar enige beroepgholfspeler (mans of vroue) wat vir jou uitstaan as 'n rolmodel?
BRYNARD: Daar is nie iemand spesifiek nie – ek kry my motivering meer van die mense om my – soos my afrigters en my mede-spelers. Ek sien die beste in die meisies wat saam met my speel se spel en dit motiveer vir my en bring die beste in my navore.

Artikel - Riaan Gerber

Category: