SA Skolekampioenskappe - Boland dra die kroon

Staan op vir die jong kampioene van die Boland!
Die krag en talent onder junior gholfspelers in die Boland is vandag weer eens onderstreep by die SA Hoërskole-kampioenskapstoernooi op Koro Creek. HS De Villiers Graaff (Boland) was in die spankompetisie die wenner, terwyl Megan Streicher van Somerset-Kollege (Boland) die algehele wenner was in die individuele afdeling.
HS De Villiers Graaff het gesamentlik eerste geëindig met Curro Aurora (Randburg) met ‘n telling van 3 houe meer as baansyfer en ‘n uittel het gevolg. Die manier van die uittel was: in hierdie spankompetisie van 4 lede elk word die beste 3 spelers se telling gebruik. Om die wenner van die uittel te bepaal is die 4de spelers van beide spanne se tellings vergelyk en danksy Alric Rooi se 77 vandag is HS De Villiers Graaff as kampioene gekroon.
Rooi verdien dus ‘n spesiale klop op die skouer vir sy vasbyt gedurende die toernooi, want De Villiers Graaff se sege was ‘n ware spanpoging.
In vandag se tweede en finale ronde het Jurian Mostert baie bestendig vertoon vir De Villiers Graaff en sy telling van 70 het gemaak dat hy die naaswenner was onder al die individuele deelnemers. Sy tellings was 71 70 141.
Angelo Keffers het vandag ‘n 76 gespeel. Sy broer Keanan het ‘n goeie 75 behaal en Alric Rooi het 77 gespeel.
Een van die redes vir De Villiers Graaff se sege was die feit dat die spelers sterk geëindig het oor die laaste putjies.
Keanan het sterk geëindig en het op beide die 17de en 18de putjies voëltjies behaal. Ook Jurian en Angelo het op hul finale putjie ‘n voëltjie behaal.
Somerset Kollege het self puik presteer en was in die 7de plek in die spankompetisie.
Streicher was vandag kookwater en haar ronde het ‘n arend en 5 voëltjies ingesluit. Megan se telling vandag van 68 was 4 laer as baansyfer. Sy het op 140 geëindig na tellings van 72 en 68.
Haar spanmaat van Somerset-College Haydn Morgan-Evans het self stewig vertoon en ‘n telling van 148 gespeel.
Ook Annalie Swanepoel van Somerset College het goeie gholf gespeel en vandag ‘n telling van 77 behaal.

Category: