Riviersonderend se juniors wen SAGDB-liga

Die gholfspan van CLC Kollege op Riviersonderend is vanjaar die wenners van die SA Gholfontwikkelingsraad (Boland-streek) se skoleliga.
Daar was altesame 30 spelers wat gespeel het die jaar. ‘n Span bestaan uit 4 spelers waarvan die beste 3 Stableford-tellings tel. CLC Kollege was met 41 ligapunte in die eerste plek. Dit was die die eerste jaar wat CLC Kollege aan die SAGDB skoleliga deel geneem het.
Esselen Park van Worcester was met 33 ligapunte in die tweede plek en Worcester Senior Sekondêr in die derde plek met 31 punte. Worcester Senior Sekondêr was die verdedigende kampioene.
Die ander twee spanne wat in hierdie liga gespeel het, was Swellendam Sekondêr en Riverside se skoolspan.
Cullen Timm (Worcester Senior Sekondêr) het die individuele afdeling gewen. Dit was 'n naelbyt-stryd tussen hom en sy skoolmaat Llewellyn Buys. Op die laaste putjie het Llewellyn egter 'n hou afgestaan aan baansyfer en Cullen was die algehele wenner met 112 punte teenoor Buys se 111.
Die beste speler vir Swellendam Senior Sekondêr was Norton Isaks met 102 punte en Jody Hanmer was Riverside skolespan se top-speler met 65 punte. Alric Rooi (96 punte) was Esselen Park se beste speler, terwyl Lionel Matoni met 79 punte CLC Kollege se top-speler was.
Shaun Adriaanse, bestuurder van die SAGDB (Boland) het spesiale vermelding gehad vir die gholfklubs van Swellendam, Robertson, Riverside en Riviersonderend wat hul bane beskikbaar gestel het vir die toernooie.
Adriaanse het ook die afrigters van die onderskeie skole bedank. Paul Baadjies het die Swellendam-seuns onder hande geneem, terwyl Jasan Johnson vir die Riviersonderend-seuns touwys gemaak het. Ruben Adams het omgesien na die spelers van die Worcester-omgewing.
“ ‘n Hele paar van die spelers wat aan hierdie liga deelgeneem het, het ook vanjaar begin om aan junior toernooie deel te neem. Hierdie liga is dus goeie voorbereiding vir die jong spelers om later aan toernooi-gholf deel te neem,” aldus Adriaanse.

Foto: Die wenspan van CLC Kollege: Ricardo Dukumbana, Truwino Sauls, Dario Minnaar, Ethan de Vries, Mario Marais.

Category: