Plattelandse sand-baan het jong Hennie geleer om kreatiewe gholf te speel

Die seun wat diep in die platteland op die Arendskraal-gholfbaan geleer het om die spel gholf te speel, Hennie O’Kennedy, het met puik vertonings tydens die Boland en WP Ope getoon hy het ‘n blink gholf-toekoms.
O’Kennedy het tydens die Boland Ope op Worcester al vier rondes in die sestigs gespeel vir ‘n tweede plek.
Tydens die WP Ope op Milnerton vandeesweek was hy in die 6de plek met ‘n telling van 272 (70,66,69,67).
Op Arendskraal (sowat 72 km van Vredendal) speel jy al jou naderhoue op ‘n klein groen matjie – omtrent alles op die baan is verder sand – buiten die setperke.
“Dis daar op Arendskraal wat ek geleer het om kreatief te kan speel, want as jy vanaf daardie matjie nie die bal behoorlik tref nie, trek die bal nêrens. Ook het die baan se uitdagings my gedwing om baie kreatiewe houe rondom die setperke te speel.”
O’Kennedy sê dat sy “scrambling” juis in die Boland Ope ‘n groot rede vir sy sukses was. ‘’As ek ‘n setperk gemis het, het ek “gechip en geputt.”
“’n Ander rede vir my goeie spel op Worcester was dat wanneer ek die setperk gemis het, het ek dit op die regte plekke gemis wat my in staat gestel het om vir die pen te gaan met my “chip” of “pitch”.
“Nadat ek lank afrigting by Swingfit ontvang het, het ek van afrigter verander en Blanche Lambrecht by Atlantic Beach neem my nou onder hande.”
“Danksy Blanche se afrigting is my “misse” op die gholfbaan baie kleiner. Ek mis nog steeds hier en daar ‘n skoonveld of die setperk, maar my “misse” is kleiner en die bal eindig op die regte plekke. My swaai voel baie meer konstant as voorheen.”
“Blanche het my ook baie gehelp met baan-strategie. Op Worcester het ek die vrugte daarvan gepluk, want daar moet jy die bal op die regte plekke slaan - anders kan jy groot nommers aanteken.”
Dit was die eerste keer in O’Kennedy se gholfloopbaan dat hy onder die top-3 geëindig by ‘n provinsiale toernooi. “Dit was vir my ‘n nuwe ervaring, maar ek het baie geleer. As ‘n ou besef jy het ‘n kans om te wen, skop die adrenalien maar sterk in oor die laaste 9 putjies.”
Die 21-jarige O’Kennedy wat matriek aan Paarl HJS geskryf het, kom uit ‘n familie waar die gholf-bloed baie sterk loop. Sy pa Len het as professionele speler op die Sonskynreeks gespeel, terwyl sy oupa Hennie en ooms Boepie, Heine, Morgan (reeds oorlede) en Kobus Boshoff almal goeie gholfers is.
O’Kennedy, lid by Stellenbosch-gholfklub, se doelwit vir vanjaar is om onder die top-10 te kom van die SA Amateur-merietelys.

Category: