Paarl HJS en De Villiers Graaff is oorgehaal vir SA skoletoernooi

Die gholfspanne van beide Paarl HJS en HS De Villiers Graaff is oorgehaal om stewige vertonings te lewer by die SA Hoërskole Gholfkampioenskapstoernooi. Die toernooi (oor 36 putjies) vind plaas by Devonvale en word Donderdag en Vrydag gespeel.

Die beste skolegholfspanne van oor die hele land sal in aksie wees.

Paarl Boys High sal verteenwoordig word deur Daniel Cronje, Tyran Snyders, Francois Cilliers en Ian du Plessis.

HJS se spanbestuurder Johannes Barnard sê die span is goed voorberei vir die toernooi.

“Ons het vandeesweek interskole gespeel teen Paarl Gim en oortuigend gewen. Vandag het die span ‘n oefenronde op Devonvale gehad en môre sal hulle ook speel in die amptelike oefenronde op Devonvale.”

De Villiers Graaff se span bestaan uit Carlos Losper (kapt), Aidon Willemse, Jurian Mostert en Angelo Keffers.

Spanbestuurder Cobus Boshoff is vol vertroue dat die span van De Villiers Graaff ‘n baie stewige vertoning sal lewer. “Ons beskik oor spelers wat baie konstante gholf kan speel en die formaat van die kompetisie beloon die span wat konstante gholf speel.”

“Ons het ‘n goeie oefenronde gehad op Devonvale saam met die Swingfit-afrigter Murray Smit en die seuns is vasberade om goed te doen.”

Spanne bestaan uit vier lede en die beste drie tellings tel vir die spankompetisie.

* Foto: Span van HS De Villiers Graaff. Agter: Jurian Mostert en Aidon Willemse. Voor: Carlos Losper en Angelo Keffers.

Category: