Mariette Truter groet Boland-gholfunie

Die afgelope ses jaar het Mariette Truter as operasionele bestuurder van die Boland-gholfunie (BGU) haar take met groot noukeurigheid uitgevoer. Vandag is haar laaste werksdag vir die BGU – die Truter-gesin begin ‘n nuwe hoofstuk in hul lewe want haar man het ‘n werk oorsee aanvaar.
Hierso volg ‘n klompie vrae aan Mariette.

VRAAG: Van wanneer af werk jy vir die BGU en wat was jou werksgeskiedenis/opleiding voordat jy vir die BGU begin werk het?
TRUTER: Ek het gematrikuleer aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley en is direk na skool na die Suid-Afrikaanse Leër Vroue Kollege (SALVKOL) op George. Ek was vir 16 jaar verbonde aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), waar ek projekbestuur vir die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens (SAGD) op die mediese hoofraam-stelsels gedoen het. Ek het ‘n PPM (Program in Projekbestuur) aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf en het die SANW in 2006 met ‘n vrywillige skeidingspakket verlaat. In die privaat sektor was ek verbonde aan ‘n Mediese Inligtingstelsel-firma en het 3 jaar mediese stelsel-opleiding gegee. Ek het in Mei 2011 by die BGU begin werk as die Administratiewe Beampte en is in 2013 aangestel as die Operasionele Bestuurder.
VRAAG: Wat was die moeilikste deel van jou werk by die BGU in die begin?
TRUTER: Ek was uit die aard van die saak nie ‘n gholfspeler nie, so ek moes al die rolspelers op daardie stadium oortuig dat ek nie gholf hoef te speel om ‘n uitstekende administrateur van die sport te wees nie.
VRAAG: Hoe het jy dit ervaar om in die gholfbedryf te werk - was dit nie 'n groot uitdaging vir jou as vrou asook as 'n nie-gholfspeler nie?
TRUTER: Ek was nog altyd sportief en het hokkie vir Griekwas, SWD en Vrystaat op provinsiale vlak gespeel. ‘n Ander passie wat ek gehad het, was vlugbal (volleyball) en het beide Vrystaat en Noord-Transvaal (Gauteng-Noord) verteenwoordig. Ek kon van die begin af maklik assosieer met die spelers, klub-bestuur en ander unies omdat ek die impak en verantwoordelikheid van sport verstaan het. Die meeste mense wat my pad gekruis het, was altyd baie hulpvaardig, en daar waar ek hulp of raad gevra het, was iemand altyd bereid om sy kennis te deel. Ek was gelukkig om ‘n paar uitstekende rol-modelle te hê wat my geleer het wat ek vandag van die gholfbedryf weet.
VRAAG: Watter aspekte het jou uitgedaag in jou werk? En hoe het jy daardie uitdagings oorkom?
TRUTER: Dit is altyd ‘n uitdaging wanneer jy met mense werk en om die teleurstelling te sien van spelers wat nie die provinsiale spanne maak nie. Een manier om hierdie tipe uitdagings te oorkom was om beleidsriglyne in plek te kon kry wat kriteria uiteengesit het vir span-seleksies. Dit het gehelp dat die speelveld gelyk is en daar redes vir besluite gegee kon word.
VRAAG: Wat meen jy is van die belangrikste uitdagings wat vir die BGU vorentoe wag?
TRUTER: Sportontwikkeling is ontsettend belangrik in Suid-Afrika tans en baie geld word daaraan gespandeer. Dit beteken ook dat die kleinste klub in die streek en omgewing dieselfde geleentheid vir ontwikkeling gegun moet word. Befondsing vir hierdie kleiner klubs is reeds hoog op die unie se agenda en sal verseker nog vir ‘n geruime tyd deel uitmaak van die ontwikkelingsdoelwitte van die BGU.
VRAAG: Vertel ons van jou gesin en hoekom verhuis julle na Engeland.
TRUTER: Ek is al vir 16 jaar getroud en ons het twee seuns. My man werk vir ‘n internasionale maatskappy en het ‘n werksgeleentheid daar aanvaar. Dit was nog altyd ons droom om in die buiteland te werk en die wêreld te verken.
VRAAG: Hoe het jy dit ervaar om te werk saam met die BGU se uitvoerende komitee asook die onlangse president Charl de Villiers en die huidige president George Bezuidenhout?
TRUTER: Daar was ‘n baie goeie werksverhoudinge binne die komitee met wedersydse respek onder die lede. Charl het defnitief ‘n positiewe benadering na die tafel gebring om gholf-bestuur oor die algemeen te verbeter. Hy het die vermoë gehad om innoverend en vernuwend te dink en met alternatiewe benaderings ‘n beter resultaat te verkry. Hy het almal se opinies van waarde geag en die hele komitee betrek. George bring ‘n sterk bestuurs- en finansiële-agtergrond na die komitee – dit is eienskappe wat vir die unie van onskatbare waarde behoort te wees met al die uitdagings wat wag op die BGU.
• Robbie Oosthuizen neem tans waar as tydelike direkteur van gholf van die BGU. Die pos word tans adverteer en ‘n aanstelling sal oor ‘n paar maande volg.

Category: