Gholf-avontuur wag vir Aidon

Die 17-jarige Aidon Willemse van HS De Villiers Graaff op Villiersdorp en lid van die TWK-klub het ’n groot gholfavontuur wat op hom wag.
Willemse is een van twee spelers van die SA Gholfontwikkelingsraad (SAGBD) wat binnekort Skotland toe gaan waar hulle onder meer gaan deelneem aan die Pro-Am van die Skotse Ope asook die Britse Ope by Carnoustie gaan bywoon.
Andre Rossouw, hoof van operasies en projekte by die SAGBD, het gesê die besoek aan Skotland kom vanweë die goeie verhouding wat bestaan tussen die SAGBD en die Skotse Gholfunie. “Die seuns is die gaste van die Skotse Gholfunie vir twee weke en benewens die deelname aan die Pro-Am en bywoning van die Ope sal hulle ook die geleentheid kry om op beroemde bane soos St Andrews te kan speel.”
“’n Groot deel van die seuns se besoek is ook om meer te leer van die spel gholf en die spel se geskiedenis. Gevolglik sluit dit besoeke in na die nasionale gholfmuseum asook ‘n fabriek waar die outydse “hickory”stokke gemaak word.”
Rossouw sê twee belangrike kriteria vir die aanwysing van die SAGBD-spelers om op hierdie toer te gaan is: (i) die speler moet konstante goeie spel lewer en (ii) die speler moet met sy gedrag op en vanaf die baan die beeld van die SAGBS positief uitdra.
Aidon is baie opgewonde oor die toer en sê hy kan omtrent nie meer wag vir dit nie.
Hierdie 17-jarige graad 11-leerling speel vanaf ‘n 0-voorgee en word afgerig deur Murray Smit (Swingfit) en Isaacs Mahoney.
Met wie wil hy graag saam speel in die Pro-Am van die Skotse Ope? “Tiger Woods of Tommy Fleetwood,”sê hy.

Category: