Ethan se oupa het hom gehard gemaak op die gholfbaan

Die 20-jarige Ethan Smith wat later vanjaar sy debuut vir die Boland gaan maak tydens die SA IPT-toernooi, het die afgelope naweek gewys hy is op baie goeie vorm toe hy die Paarl Gholfklub se klubkampioenskappe met 'n telling van 6 houe onder baansyfer gewen het. Ethan se tellings was 68, 70 en 72 en hy het 11 houe voor sy naaste teenstander HP van der Merwe geëindig.
Ethan se oupa, Steyn Pienaar, het hom geleer om gholf te speel. Reeds op die ouderdom 4 jaar het Ethan wanneer hy gekuier het op sy oupa Steyn se plaas balle in die tuin saam met sy oupa geslaan.
Daarna het hy en sy oupa na die Paarl-gholfbaan gegaan en begin om saam te speel. By die Paarl-klub was daar jaarliks 'n familiedag-kompetisie en op 5-jarige ouderdom was Ethan lid van die wenspan saam met sy oupa, Steyn, asook sy oupagrootjie, Fourie Pienaar asook sy oom, Sean Pienaar. Die volgende jaar het hierdie gedugte span weer die familiedag-kompetisie gewen!
"Ek het baie oor gholf by my oupa geleer. Hy het my nie net oor die spel touwys gemaak nie, maar hy het my ook geleer om "tough" te wees op die gholfbaan."
"Ons het onder mekaar altyd vir iets op die baan gespeel en my oupa het allerhande "truuks" gehad om my "af te sit" tydens ons wedstryde - maar hy het dit alles gedoen om my te leer om te fokus en "mentally tough" te wees op die gholfbaan.
Ethan wat gematrikuleer het aan Paarl Boys High was op skool 'n veelsydige sportman en het onder meer vir die Bolandse junior hokkiespan gespeel.

In sy graad 9-jaar het hy begin om gholflesse te ontvang by die PGA-afrigter van Devonvale-klub, Anna Becker-Frankel. "Ek was tot my matriekjaar by haar en sy het my baie goeie "drills" geleer."
"Ek het nie meer 'n afrigter nie, maar ek gebruik nog baie van die "drills" wat Anna my geleer het."
Ethan was in sy matriekjaar lid van die Bolandse Junior IPT-span en kon danksy ondersteuning van die SA Gholfontwikkelingsraad (hy was vir twee jaar 'n lid van die SAGBD-groep) aan verskeie junior toernooie in die land meeding. Die gevolg was dat Ethan se posisie op die SA Junior-ranglys sterk geklim het en hy was in 'n stadium in die 20ste plek.
Smith het tydens die Paarl Ope-toernooi in 2017 asook die Bobby Locke Ope vanjaar op Robertson uitstaande gholf gespeel. Hy het die Paarl Ope gewen met 'n telling van 133 (11 houe beter as baansyfer) en die Bobby Locke Ope met 'n wentelling van 136. "Die groot rede vir die lae tellings was dat my setstok baie warm was. Ook stel ek met elke toernooi vir myself 'n doelwit. My doelwit is altyd baie hoog - iets om na te streef en nie iets wat jy sommer maklik gaan bereik nie."
Ethan is vroeër vanjaar gekies vir die Boland Plattelandspan en hy was een van die span se groot uitblinkers tydens die SA Platteland-toernooi. Smith het op nommer 1 in die enkels gespeel en verskeie ervare en bekende teenstanders op hul neuse laat kyk. "Ethan is een van daardie spelers wat dit reg kan kry in putjiespel om deurentyd sy eie "game" te kan speel en hy laat hom nie afsit deur teenstanders met groot name nie," was die kaptein van die Boland Platteland-span, Kosie Conradie, se indrukke van Ethan se spel tydens die toernooi.
Smith sien baie uit na die SA IPT-toernooi. "Ek ken die ouens in die span baie goed en ek en my beurtspel-maat, Tyron Davidowitz, het as juniors baie saam gespeel en ons is baie gemaklik met mekaar. Ek hou ook van die spangees wat heers."
Hy is 'n B.Rek-student aan die Universiteit van Stellenbosch en sy tyd vir sport is maar beperk - "die studies hou my baie besig."
Hy gaan vyf dae in die week na die gimnasium en werk baie hard aan kragoefeninge asook om soepel te bly. Ook speel hy sokker vir die PSO-sokkerspan.
"Ek kry nie baie tyd om gholf te oefen nie, maar wanneer ek gholf oefen doen ek dit met 'n doel en groot konsentrasie."
Uit die gesprek is dit duidelik - hierdie jong man is gefokus om suksesvol te wees in die dinge wat hy aanpak.

Category: