Boland Mid-Am se strategie werk goed teen Mpumalanga by SAIPT

Die Boland se Mid-Am span het vandag n goeie dag op kantoor gehad.
Die Bolanders het vandag by die SA IPT Mid-Am-toernooi ‘n baie goeie sege van 7.5 – 4.5 oor Mpumalanga gehad.
Die Boland het vir hierdie wedstryd ‘n ander strategie gehad en die spel-orde omgeruil. Dit het die gewenste resultate opgelewer.
In die beurtspelle het Jaco Spies en Robbie Oosthuizen op nommer 4 gespeel en gewen, terwyl Philip Spies en Anton Oosthuizen op no 3 baas was in die beurtspelle.
Die beurtspelle se resultaat was 2-2.
In die enkels het die Bolanders ook die spel-orde verander.
Robbie Oosthuizen het op nommer 8 gespeel en 2 op gewen, terwyl sy broer Anton op no 7 gespeel het en met 1 op gewen het.
Daarna het Jaco Spies op nommer 6 sy wedstryd halveer en op no 5 het WP Botha sy puik vorm voortgesit en sy wedstryd beklink met 4/2.
Andre Ficks se vorm is so blink soos ‘n diamant en hy het op no 3 met 2/1 gewen en bly dus onoorwonne in die enkels.
Coenie Swanepoel het op nommer 2 kookwater-gholf gespeel en was ‘n hele klomp houe onder baansyfer toe hy hand geskud het – na ‘n groot sege van 8/7.
Charl de Villiers, bestuurder van die Boland-span, sê hy is baie trots op die spelers se vertoning.
“Dit was ook vandag duidelik dat die Bolanders meer vertroud geraak het met die setperke. Kimberley se setperke het geweldig baie “nap“ op en jy moet altyd toelaat dat die bal skerp gaan breek op die setperke. Dit is setperke wat heel anders is waaraan die spelers gewoond is.”
“Vandag het die spelers die grein van die setperke baie beter hanteer en die resultate was daar. Dit was ‘n goeie spanpoging.“
Die Bolanders het more ‘n rusdag.

Category: