Aidon beleef Skotland-gholfavontuur soos min

Die belowende junior gholfspeler van HS De Villiers Graaff op Villiersdorp en lid van die TWK-klub, Aidon Willemse, het ‘n avontuur soos min beleef tydens sy onlangse besoek aan Skotland.
Willemse was een van twee spelers van die SA Gholfontwikkelingsraad (SAGBD) wat Skotland besoek het op uitnodiging van die Skotland-gholfunie.
Aidon het onder meer verskeie bekende Skotland-bane gespeel, asook deelgeneem aan die Pro-Am van die Skotse Ope en het ook die Britse Ope by Carnoustie bygewoon.
Sy groot hoogtepunt was om sy held Tiger Woods in aksie te kon sien tydens die Britse Ope. “Dit was ‘n groot droom wat waar geword het.”
Hy het tydens die pro-am van die Skotse Ope op die Gullane-baan saam met een van Brittanje se beste gholfspelers, Tyrrell Hatton, gespeel.
Aidon vertel: “Ek het dit baie geniet om om saam met hom te speel en het baie geleer. Tyrrell het veral vir my vertel dat op die baan moet jy as speler jou nooit laat afsit deur negatiewe gedagtes nie. Jy moet jou teiken sien en nie bekommerd wees oor hindernisse soos water, buite-grense-lyne of bosse nie.”
‘n Ander groot hoogtepunt was toe hy “The home of Golf” St Andrews besoek het. Natuurlik was dit ‘n mylpaal vir hom om op hierdie beroemde baan te kon speel, maar hy het dit net so baie geniet om die klubhuis en museum van St Andrews te besoek.
Hy het ‘n telling van 74 op die St Andrews-baan gespeel asook ‘n telling van 74 op die St Andrews Jubilee-baan.
Dan het hy ook op die beroemde Muirfield-baan gespeel en ‘n telling van 75 aangeteken asook ‘n 78 en 77 op die Haggs Castle-baan.

Category: